Dit is op Engela se wenslysie om n skeepswrak te sien.  Noord van Hentiesbaai tot Cape Cross het ons niks gesien nie. Groot was die opwinding toe ek lees dat daar so 13km  suid van Hentiesbaai die wrak van die Zeila lê. Sigbaar vanaf die strand.

Daar het n koue wind gewaai op, nog n ander camper ook  in die parkeerterein by die wrak en n paar lastige smouse wat bedel.

Gou was ons weer oppad.

Met ons vorige besoek in 2013 het ons nie by Wlotzkasbaken gestop nie. Vandag, het ek vir Pieter gesê draai ons hier af om deur die dorpie te ry. Dit is na Paul Wlotzka vernoem, wat n ywerige hengelaar was. Hy het die eerste vakansiehuisie hier gebou.  Dit is nogsteeds n plek waar jy selfvoorsienend moet wees. Elke huis het n hoë watertenk op n stellasie. Vars water word aangery.

Ek weet nie of hier permanente inwoners is nie, heelwat huise se hortjies is toegemaak. Hier is nie heinings tussen die erwe nie. Netjies gepakte klippe dui die erwe aan. Ek neem fotos van heelwat helder geverfde huisies (en watertenks).

In Swakopmund wil ons weer die Kristall Galerie besoek (Koste R30 per person) waar ons voorheen ook was en die Swakopmund Museum (koste R30 vir volw en R25 vir studente)

Dit is die eerste plek waar ons uiteindelik afslag kry vir studente. Ons vra orals. Dit is ook die moeite werd om te vra vir SADC afslag. Baie plekke het verskillende pryse vir Namibiërs, SADC wat ons insluit en Internasionale toeriste. In Zimbabwe maak die US$20 n groot verskil op die toegang by Vic Falls.

Die Kristall Galerie is pragtig en dis eintlik ongelooflik om te sien hoe die skatte onder die grond lyk. Sommige van hulle lê bo-op die grond.

Dit is nie ver na die museum toe nie, seker so 3 blokke. Hierdie is n privaat museum en definitief n besoek werd. Daar is n video wat vertoon word oor die oes en droog van die “Devil’s Claw” deur die San. Ons het die plant reeds in Botswana op die plaas raakgeloop, maar nie besef hoe groot die ondergrondse wortels is of wat die medisinale gebruike is nie. ‘n Groot hoeveelheid van die gedroogte wortels word uitgevoer en word gebruik in anti-inflammatoriese medisyne.

Ons het n hele paar uur in die museum spandeer, daarna ‘n vinnige stop by die rooi vuurtoring, voordat ons verder in die rigting van Walvisbaai vertrek.

Vanaand kuier en slaap ons oor by Heinrich en Jacomien Zwemstra en hulle gesin in Walvisbaai. Ons het hulle in 2010 in Zambië by the Convenant Collega naby Petauke ontmoet. Hulle het toe daar gewoon. Heinrich was betrokke by die opleiding van predikante daar. Toe was ons op ons vorige safari.  Heinrich is tans die Gereformeerde predikant op Walvisbaai en Swakopmund. Ons is gelukkig genoeg om te eet van die eerste kabeljou wat hy onlangs gevang het. Dit was groot genoeg vir die 9 van ons en daar was nog oor.

Heinrich het n foto gestuur waar die kinders in 2010 marsmallows braai en die foto word  weer recreate. Aangesien daar al 14 jaar verloop het, onthou hulle mekaar glad nie, maar kuier gou lekker.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *