Luderitz is omtrent 120km vanaf Aus en ons wil kyk of ons die wildeperde sien en Kolmanskop besoek en daarna Luderitz. Ons kry dit reg om 7h30 oppad te wees. Die afrdraai vir die wildeperde is 20km wes van Aus in die rigting van Luderitz. Daar is ‘n mensgemaakte suiping 1.5km vanaf die teerpad met die skuiling en toilet.


Daar is slegs n gemsbok by die suiping, n paar swerms kelkiewyne kom water drink en ver op die horison sien ek n jakkals. Kort nadat ons weer op die teerpad is sien ons 3 wildeperde aan die linkerkant vd pad.
Ons arriveer 8h45 by Kolmanskop en gelukkig kan ons die permit by die hek koop. R180 per person. Die permit sluit ‘n 45min toer in. Terwyl ons wag vir die toer, maak ek gou toebroodjies en koffie vir ontbyt.


Die toeriste word in 2 taalgroepe verdeel, Engels en Duits. Die toer is interessant. Die ryk mense van Kolmanskop het n interessante lewe gelei. Daar was geen varswater in Kolmanskop nie, ek dink ook nie in Luderitz in 1908 nie. Vars water is van Kaapstad af ingevoer vir afspoel, kosmaak en drink. Vir die res is seewater gebruik. Een van die 3 X’straalmasjiene in die wêreld was in Kolmanskop, 90% van die diamante wat ontgin is was juwelierskwaliteit en 10% industrieël.



Ons almal is dol oor die dorpie en beindruk oor hoe die geboue behoue gebly het. Alles is ingevoer, stene, deure, vensterrame, sement en selfs bousand. Na die toer kon ons op ons eie tyd die geboue bekyk en selfs in hulle rondstap.






Die ligte briesie wat gewaai het toe ons arriveer het het nou n sterk wind geword.
Hier is duine sommer langs die pad en dis glo omtrent n taak om die sand van die pad af te probeer hou en die spoorlyn ook. Ons benodig kruideniersware so dis ons eerste stop. Dis reeds 12h30, ook maar goed want toe het ons nog nie besef die dorp kom tot stilstand op 13h00 op ‘n Saterdag nie. Ons het nou weer brood, kaas en beskuit. Naby die hawe en waterfront kry ons parkering.

Daar is weer n groot geel raam en dis weer foto tyd. Pieter kry selfs ons camper ingepas wat daar in die verte staan. Die wind is baie onplesiering. Die waterfront is n teleurstelling. Die hawe is egter bedrywing met groot skepe in die hawe wat wag om gelaai te word, treine ry tot binne die hawe om erts af te laai.

Ons besluit om te kyk wat Luderitz alles bied en dan terug te ry Aus toe. Agate Strand is 5 km buite Luderitz en glo baie gewild met die inwoners.




Ons stap op die strand en aangesien ons nie weet hoe Agate lyk nie, het ons nie sukses om enige te vind nie. Die wind waai skuins van agter en ons stap lekker, die terugtog met die wind van voor is nogal n uitdaging.

Daar is n klomp flaminke op n pan buite die dorp en op die groen gras langs die watersuiweringskompleks wei seker die vetste gemsbokke in Namibia. Luderitz het ook n Duitse invloed wat jy aan die ou geboue en straatname kan sien. Miskien as ons Luderitz op n beter dag besoek het, maar op die warm en winderige Satermiddag is daar niks wat ons hier hou nie.
Op die pad terug sien ons een perd by die suiping en net verby n redelike trop van 20 perde wat langs die pad wei. Die photos is ook nog op dei groot kamera en sal later volg.
Die wind waai steeds baie hard en die vlae sand waai oor die pad. Ek stel voor dat ons wel klein Aus Vista probeer, dis net buite Aus en dis dalk goedkoper.

Dit was nie goedkoper nie, R10 per person duurder, maar baie mooier. Hier is n swembad by die lodge en dis stapafstand 1.6km van die kampeerplek. Ons staan op staanplek 10 langs n kameeldoringboom met n groot versamelvoëlnes.

Die wind waai hard en dis nogal koel. Ons sal die nag sonder die lugversorger oorleef. n Vuur sal ons nooit in die wind aan die gang kry nie so ons settle vir viskoekies en pastaslaai. Almal is deur die son gebrand want niemand dink toe aan sonskerm voor ons op Kolmanskop begin rondloop nie. Emke en Pieter gaan soek weer skerpioene, maar kry nie. Hulle sien wel n vaalboskat en n uil.



Koste R210 per person = R840 vir die nag by Klein Aus Vista.
