Dit het oornag weer n bietjie gereën, ons is dankbaar saam met al die boere, hier en by die huis. Na ‘n pragtige sonopkoms en heerlike ontbyt vertrek ons.
Ons ry met die kaplyn langs. Dis nie pad waarop ons sou ry as ons nie by Carel-hulle kom kuier het nie. Die kaplyn(ne) verdeel Botswana in blokke. Die beeste kry ook n brandmerk met die bloknommer op. Ons sien geen ander voertuie op die pad nie en vorder heelwat beter op die sand. Die vorige nagte se reën het baie daarmee te doen.
Pieter se oë is op die pad en ons stop vir n klein skilpadjie. Ek moet nog sy naam opsoek, die doppatroon is nogal besonders. Nadat almal hom bekyk het, verdwyn hy weer in die gras.
Die teerpad (A30) is in n redelike goeie toestand. Soos altyd is daar baie beeste , bokke en donkies wat langs die pad wei. Dis heeldag bewolk en plek-plek reën dit lekker.
Na n vinnge draai deur Francistown, ry ons met die A3 tot by Woodlands Stop Over en Lodge. Hier is ook n swembad, maar die swem staan oor agv die dreigende reën.
Inligting oor Woodlands
Koste is 210P per persoon per nag vir kampering
plus die 10P Government Levy per persoon
Verdere 55P vir n kragpunt
Hier is Wifi. Ons dink die wolke was die oorsaak vir die swak sein want dit was redelik stadig en ons het gereeld die sein verloor.
Ons staanplek tussen die bome.
Die damesbadkamers was half oopplan, ietwat vreemd vir die kinders. Die hout is pragtig en alles mooi skoon met lekker warmwater.
Môre vertrek ons via Plumtree na Zimbabwe. Dit reën lekker en ons staan al in n lekker plas water. Ek het al tred verloor met die datums, maar dit is vandag 19 Desember 2024.