Dis koel en mistig. Ds Fanie het vir Pieter vertel van n besonderse swemplek in die woestyn. Die soutvlakke is so hoog, jy dryf nes in die dooie see!

Aanwysings van ds Fanie ontvang is so 20km voor Cape cross, draai regs, ry so 18km die woestyn in. En dis ons plan vir die dag.
Gelukkig het Pieter ook GPD koördinate gekry anders het ons nou nog daar rond gedwaal. Want die bordjie was die laaste aanduiding. Die pad is baie sleg sinkplaat, maak nie saak watter kant van die pad jy ry, oral is dit sinkplaat.

Ons sien 2 dromme langs die pad en neem aan jy draai jy af. Dan nog so amper 5km verder. Daar is heelwat spore in alle rigtings, ons volg maar die rigting van die meeste spore.

Op en af oor sulke koppies. Emke vra of ons asb kan stop sy wil uitklim. Eers dink ons sy is naar, maar nee, die op en af het haar vreeslik benoud en sy dink ons gaan enige tyd omval!!! Sy sal eerder stap. Pieter sê dis te vêr, sy moet vasbyt. Engela is bang ons val vas en wie sal ons dan kom uitsleep en wat as ons beroof word?? Ek neem aan as ons op ons spore terug ry, sal ons weer by die pad uitkom. Pieter dink dis n cool plek en volgende keer kamp ons sommer hier in die woestyn.

Uiteindelik, danksy die GPS arriveer ons by Startmore South “Dead sea”. Dit is n ou uitgewerkte tinmyn wat deur ondergrondse water en dou gevoed word. Agv die baie hoë soutinhoud dryf jy. Aanvanklik was die kinders nie beindruk nie, maar toe ek en Pieter alreeds swem, het hulle ook hulle swemklere aangetrek en die water aangedurf. Dit was heerlik, ons het die hele plek vir ons self gehad, buiten die paar Woestynspekvreters wat ons van die klippe af dopgehou het.


Oral word gesê jy moet varswater saam neem vir afspoel. Ek het nog nie eers van die water tot by die camper geloop nie toe begin ek al jeuk.

Thou shalt not enter with sandy shoes!!!!
Gelukkig het ons die watertenk op Henties volgemaak sodat ons sommer kan stort. Ons het besluit om halfpad terug te stop vir middagete.

Ons gesonde middagete in die woestyn!

Doer in die verte staan Emke

Waar is ons???
Emke sit nou voor sodat sy kan sien die bulte is nie so erg nie.

Dit is definitief meer bewolk vandag. Ons stap bietjie deur die winkels van Hentiesbaai, en op die strand voor ons Skubbe toe stap vir vis vir aandete. Die Skubbe plek is eintlik oulik. Daar is n plek waar jou vis skoongemaak kan word, jou kar by die karwas afgespuit word en plek vir iets te ete en drinke. Daar is mense wat die vis namens jou skoonmaak.

Indien jy besluit om die “Dooie see van Namibië” te besoek, neem n GPS, jy gaan sukkel om dit daarsonder te kry. Op van die reviews wat ons gelees het, het mense ure daar rond gery on kon dit nooit vind nie. Neem ten minste 5 liter skoonwater per persoon om af te spoel.
Ons love Skubbe!