Ons vertrek na n heerlike ontbyt, n laaste vinnige foto (deur die tuinier geneem) en ons diesel ingooi is ons oppad.

Van nou is af dit grondpad vir n hele paar dae en die volgens wat ander blogs en reviews sê is dit nie goeie grondpad nie.

Foto: Engela

Aanvanklik is die pad  goed, Daar is n gedeelte van omtrent 30km wat uiters sleg is.

Ons vorder so teen 20km per uur. Later raak dinge  weer beter en ons ry so 70km/h. Ons begin gemsbokke, sprinkbokke en selfs n paar wildebeest sien. Volstruise is ook vollop. Ons trek af by n uitkykpunt met kokerbome, Engela bou n klipstapeltjie en Pieter vra n pa en seun of hulle hulp nodig het met die band wat hulle omruil.

Hierdie is dramatiese landskappe en verander gereeld. Soms is dit sand vlaktes, soms is daar berge, klowe en droë rivierbeddens.

Ons kan nie die geleentheid laat verby gaan om by die steenbokskeerkring n foto te neem nie.  Engela is n steenbok en kry haar eie foto.

Ons arriveer by Solitaire net voor 14h00. Loop n bietjie rond om ons bene te trek na 5 ure van grondpad. Die reënval aantekening wys hoe droog dit hier kan wees. 

Na die reuse stuk appeltert (Engela verkies n Pig’s Ear) is ons flou en besluit om hier oor te slaap.

Koste is R200 per person ( ek is dankbaar ons het net 2 kinders wat in Namibia betaal jy per person en nie per staanplek nie) Die krag is af en die selfoontoring ook.

Ons het n pragtige staanplek langs n kameeldonringboom. Terwyl ek  vir Pieter wag draf n witkwasmuishond rustig by my verby in die rigting van die landingstrook, ook bekend as Solitaire International. Hier lê heelwat ou motorkarre rond, ek neem fotos terwyl die son sak.

Ons is op dieselfde tyd as SA maar die son sak eers teen 20h00, n uur later as by die huis. Emke kry weer n skerpioen waaroor sy baie opgewonde is.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *