Ons het reeds gisteraand opgepak en die groot trap gebêre sodat ons vroeg aan die gang kan kom. Die koel weer van n paar weke gelede is lankal iets van die verlede en ons is weer terug in die middle 30’s.


‘n Trop gemsbokke wei op n groenigheidjie langs die pad. ‘n Volstruis in die pad hardloop vir n rukkie voor die camper voor sy wegswenk.

Ek kan skaars my oë glo toe ek n kampeelperd langs die pad sien. Wat sou die arme dier eet? Hier is geen bome in sig nie en ons sien ook geen ander kameelperde. (Die kameelperd foto is nog op my groot kamera, al die fotos is met my selfoon geneem. Sal later die kameelperd foto oplaai) Ons stop by Betta, een van die groot kolle op die kaart, maar in werklikheid net n vulstasie, restaurant en oorslaapplek met pragtige skoon kleedkamers en n klomp ou karre. Ons stop langs n ou vragmotor.



Nou mik ons vir Helmeringshausen. Die pad is n aksie beter en ons vorder goed. By die t-aansluiting na Helmeringshausen besluit ons, ons sien kans vir nog 100km tot by Aus.
Oor Aus kan ek nie veel sê nie, dis n klein plattelandse dorpie waar daar oënskynlik nie veel aangaan nie. Ons staan vanaand by die Namiba Garage campsite.


Dit is basies n dorpserf met n muur om, oorkant die garage, met 6 staanplekke met kragpunte. En ‘n netjiese nuwe en ablusieblok. Dis al, o ja, en n paar ou karre!

Die ontvangs van die kampterein is in die winkel by die garage. Daar gebeur alles. Jy kan bande, olie en onderdele koop, brood en kuideniersware, klere en curios.


Dit is baie warm end it is die hoofrede hoekom ons besluit het om hier te staan, die ander kampeerplek Klein Aus Vista net buite die dorp het nie kragpunte by hulle kampeerplek nie. Pieter braai van die heerlike gemsbokfillet wat ons nog op Okahandja gekoop het. Ons eet die fillet met knoffel -en kruiebotter, blokkies gebraaide aartappels, die laaste groenboontjies uit my tuin en ‘n mengelslaai.